Apollo 7

Schirra se bemanning in opleiding vir Apollo 2, 1966

Apollo 7 (11 tot 22 Oktober 1968) was Nasa se eerste bemande ruimtevlug in die Apollo-program en ook die eerste bemande ruimtevlug na die Gemini XII sending in November 1966. Apollo 7 is op 11 Oktober 1968 gelanseer en die bemanning het op 22 Oktober 1968 veilig in die water geplons. Die bemanning was as volg: bevelvoerder Walter M. Schirra, bevelmodule-vlieënier en navigator Donn F. Eisele en maanmodule-vlieënier R. Walter Cunningham (so aangewys alhoewel Apollo 7 nie 'n maanmodule gedra het nie).

Apollo 7 was die hervatting van menslike ruimtevlug deur die agentskap ná die brand wat die drie Apollo 1-ruimtevaarders tydens 'n lanseerrepetisietoets op 27 Januarie 1967 laat sterf het.

Die drie ruimtevaarders is oorspronklik aangewys vir die tweede bemande Apollo-vlug, en toe as rugsteun vir Apollo 1. Na die Apollo 1 brand, is bemande vlugte opgeskort terwyl die oorsaak van die ongeluk ondersoek is en verbeterings aan die ruimtetuig en veiligheidsprosedures aangebring is, en onbemande toetsvlugte is onderneem. Vasbeslote om 'n herhaling van die brand te voorkom, het die bemanning lang tydperke spandeer om die konstruksie van hul Apollo-bevel- en diensmodules (BDM) te monitor. Opleiding het voortgegaan oor 'n groot deel van die 21-maande pouse wat op die Apollo 1-ramp gevolg het.

Apollo 7 is op 11 Oktober 1968 vanaf Kaap Canaveral- ruimtemagstasie, Florida gelanseer en het elf dae later in die Atlantiese Oseaan neergeplons. Uitgebreide toetse van die BDM het plaasgevind, en ook die eerste regstreekse televisie-uitsending vanaf 'n Amerikaanse ruimtetuig. Ten spyte van spanning tussen die bemanning en grondbeheerders, was die sending 'n volledige tegniese sukses, wat NASA die vertroue gegee het om Apollo 8 twee maande later in 'n wentelbaan om die Maan te stuur. Deels as gevolg van hierdie spanning het nie een van die bemanningslede weer in die ruimte gevlieg nie, hoewel Schirra reeds aangekondig het dat hy ná die vlug by Nasa gaan uittree. Apollo 7 het Apollo 1 se missie vervul om die BDM in 'n lae aardwentelbaan te toets, en was 'n belangrike stap in die rigting van Nasa se doelwit om ruimtevaarders op die Maan te laat land.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search